Die VF Plus veroordeel die swak bestuur van die Maluti-a-Phofung-plaaslike munisipaliteit en sy waterraad tot die nadeel van inwoners.
Dit het nou weer daartoe gelei dat inwoners van Harrismith, Phuthaditjhaba en Kestell vanaf Vrydag sonder water is.
Hierdie krisis kom hierdie keer weens die waterraad se versuim om betyds chemikalieë vir waterbehandeling aan te koop.
Aanvanklik het die waterraad die skuld op kragprobleme geplaas in ‘n poging om die gemeenskap se gemoedere te kalmeer.
Volgens die munisipale bestuurder, mnr. Amos Goliath, is die nodige chemikalieë intussen aangekoop, maar dit bring nie die dringende kwessie van swak beplanning en bestuur tot rus nie.
Die VF Plus sal die saak in die raad aanspreek en ‘n ondersoek eis om te bepaal wie verantwoordelik is vir die versuim om betyds voorsorg te tref vir hierdie basiese aankope.
Water is ‘n basiese reg en wanneer dit weggeneem word weens wanbestuur, stel dit die gesondheid en waardigheid van inwoners in gevaar.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die munisipaliteit om die aankope-proses te versnel en om te verseker dat soortgelyke krisisse in die toekoms voorkom word.