Daar moet dringend opgetree word om verdere plundering by die krematorium op die terrein van die Memoriam-begraafplaas te voorkom.
Misdadigers het in die vroeë oggendure vandag ʼn klep van ʼn gastenk by die krematorium gesteel wat die lewe van omliggende inwoners in die gevaar stel.
Die swak instandhouding en algemene verval van die Memoriam-begraafplaas is al jare lank ‘n veiligheidsrisiko en ʼn bron van kommer vir die gemeenskap.
Die lang gras, bosse en verskeie gebreekte heinings bied ‘n ideale teelaarde vir misdadige elemente.
Drie voertuie het al deur die heining gejaag en die skade is steeds nie herstel nie.
Die VF Plus het by die munisipale bestuurder, Sello Moore, geëis dat die heinings herstel word en dat bykomende sekuriteitsmaatreëls ingestel word om verdere voorvalle te voorkom.
Daar is ook berigte van onwettige plakkers wat in ‘n verlate huis op die perseel bly.
Die huidige sekuriteitsmaatreëls is nie voldoende nie. Die begraafplaas is só groot en verwaarloos dat dit patrollies byna onmoontlik maak om onwettige toegang te verhinder.
Die VF Plus sal ook vrae in die Vrystaatse wetgewer vra om vas te stel waarom daar steeds gas in die tenks is aangesien die krematorium al vir meer as twee jaar nie gebruik word nie.
Die VF Plus bedank die nooddienste wat vinnig gereageer op die jongste voorval.