Terwyl die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, sy duur 2024-provinsiale rede in Qwaqwa gelewer het, het mense buite vir gaste se toegangskaartjies gesmeek om ʼn bord kos te kry.
Vrystaters is honger en soek werk. Dit is wat Dukwana nie in sy provinsiale rede aangespreek het nie.
Dit was vir hom belangriker om meer as R5 miljoen op te dok om sy toespraak te kan lewer, terwyl hy geen oplossings vir werkloosheid in die provinsie bied nie.
In stede daarvan om ʼn handjievol ANC-elites gelukkig te hou, moes Dukwana eerder in die strate van Qwaqwa geloop het om te sien wat sy party se beleid en verkeerde prioriteite aan die provinsie doen.
Die ANC se korrupsie, wanbestuur, kaderontplooiing en ongekwalifiseerde amptenare is die oorsaak van die verval in die Vrystaat.
Al wat die premier se provinsiale rede bevestig het, is dat dit tyd is om van die ANC ontslae te raak om die Vrystaat te herstel en bou.