fbpx
Vryheidsfront Plus

Aansuiweringsbegroting van Mogale City bewys sy benarde finansiële situasie

Die aansuiweringsbegroting wat die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) vandag goedgekeur het, is ’n onteenseglike bewys van die munisipaliteit se benarde finansiële situasie.

Die grootste bron van kommer is dat die aansuiweringsbegroting vir die 2023/24-finansiële jaar ten bedrae van R226 miljoen onbefonds is.

Hierdie reuse tekort word hoofsaaklik toegeskryf aan die bykomende R56 miljoen wat begroot word vir veiligheidsdienste in die huidige boekjaar.

Veiligheidsdienste blyk egter ’n bodemlose put te wees waarin die belastingbetalers van Mogale City se hardverdiende geld gestort word sonder enige daadwerklike voordele.

Die begroting maak reeds voorsiening vir R70 miljoen vir veiligheidsdienste, maar dit word nou verhoog tot R120 miljoen.

Verder maak die begroting voorsiening vir R30 miljoen se onbeplande uitgawes aan sekuriteitsdienste, maar dit word nou verhoog tot sowat R36 miljoen.

Dit beteken dat die R100 miljoen wat aan veiligheidsdienste bestee kan word, nou verhoog word tot R156 miljoen.

Ondanks hierdie reuse-uitgawe aan veiligheidsdienste, word die munisipaliteit se infrastruktuur daagliks gevandaliseer. Kragkabels en ander kragverspreidingstoerusting word daagliks gesteel.

Inwoners van Mogale City het al daaraan gewoond geraak dat elektrisiteit nie aankom ná beurtkrag nie omdat die infrastruktuur vernietig word tydens beurtkrag, veral in die nag.

Dit is duidelik dat die ANC en EFF se marionet-burgemeester, mnr. Danny Thupane van die African Transformation Movement (ATM), totaal en al onbevoeg en onbekwaam is om Mogale City te lei.

Ander knelpunte in die aansuiweringsbegroting sluit in:

• Dat die begroting vir vullisverwydering en die opruim van onwettige vullis storting met 58% verhoog word van R23.4 miljoen tot R37.2 miljoen.
• Dat die begroting vir toerusting vir die herstel van straatligte verlaag word met R1.5 miljoen.
• Dat die aansuiweringsbegroting voorsiening maak vir ’n geprojekteerde verlaging in totale inkomste van R63 miljoen. Hoe kan totale inkomste verlaag wanneer die aantal huishoudings eksponensieel groei?
• En dat die invorderingskoers op dienste, geprojekteer word op 89%. Die raad beplan dus dat 11% van dienste gelewer en waarvoor rekenings uitgestuur word, onbetaald sal bly.

Hierdie stand van sake is onvolhoubaar en sal verseker teweeg bring dat Mogale City dieper en dieper in bankrotskap wegsink.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.