Die verlaging van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se 2023/24-aansuiweringsbegroting met R1,4 miljard kan daartoe lei dat die munisipaliteit weer op 31 Mei vanjaar ʼn onbefondsde begroting moet goedkeur.
Dit sal dan die sesde agtereenvolgende onbefondsde begroting wees. Hierdie keer kan die Gauteng-regering besluit om die munisipaliteit onder artikel 139-administrasie te plaas en die raad ontbind.
Die rede vir die vermindering is die nienakoming van ʼn hofuitspraak in Junie 2023 wat bepaal het dat alle kragvoorsieningdienste deur Eskom behartig moet word.
Randwater neem ook watervoorsiening oor van die munisipaliteit.
Inwoners sal vanaf 1 Julie vanjaar die munisipaliteit slegs hoef te betaal vir eiendomsbelasting en vullisverwyderingsdienste.
Die VF Plus wou weet of inwoners steeds een diensterekening gaan ontvang en of elke entiteit sy eie rekening aan huisbewoners gaan stuur.
Die party wou ook weet of die grootmaat-diensverskaffers ʼn fooi aan die munisipaliteit gaan betaal omdat hulle van die munisipaliteit se infrastruktuur gebruik gaan maak. ʼn Verslag is oor die aangeleentheid aangevra.
Die oorname van Eskom en Randwater as diensverskaffers vir Emfuleni is ʼn bewys van die ANC-beheerde raad se onvermoë om die munisipaliteit suksesvol te bestuur.
Inwoners het die geleentheid om op 29 Mei van die ANC in Gauteng ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde koalisieregering wat die provinsie kan herstel en bou.