Dit is noodsaaklik dat Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid sy ondersoek na lisensiebedrog na alle lisensiekantore in die provinsie uitbrei.
Die VF Plus het die versoek gerig nadat die LUR vir die departement, mnr. Vusi Shongwe, onthul het dat die meer as R35 miljoen se verlore inkomste weens bedrog by die Kwamhlanga- en Siyabuswa-lisensiekantore, verhaal gaan word.
Dit volg nadat die departement ontbloot het dat lisensieskywe van motorvoertuie en vragmotors, veral vlote van sekere maatskappye, einde verlede jaar op bedrieglike wyse by hierdie lisensiekantore uitgereik is.
Dit is van die grootste belang dat alle lisensiekantore in die provinsie ondersoek word en dat regulasies ingestel word om hierdie soort bedrog te voorkom. Die VF Plus het ‘n dringende mosie oor dié voorstel ingedien.
Mpumalanga het reeds miljoene rande verloor weens bedrog en korrupsie wat amptenare regoor die provinsie se verkeersdepartemente pleeg.
Hierdie soort misdaad in die lisensie-afdelings moet dringend aangespreek word.
Daar moet regulasies in plek gestel word om te voorkom dat miljoene rande wat veronderstel is om na die provinsiale tesourie te gaan vir dienslewering, gesteel word deur ‘n paar korrupte amptenare.
Die enigste manier om Suid-Afrika te red van korrupsie, is deur te registreer en te stem. Die ANC moet vervang word met ‘n verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.