fbpx
Vryheidsfront Plus

Onderwysinstellings moet in kultuurgemeenskappe geanker wees

(Parlementsdebat oor die reg van gemeenskappe om deel te neem aan die bestuur en ontwikkeling van openbare – en private onderwysinstellings)

In ʼn debat van nasionale belang wat die VF Plus aangevra het, was die rol van kultuurgemeenskappe ʼn onderwerp wat vandag vonke in die parlement laat spat het.

Inleidend tot die debat het die VF Plus die Verenigde Nasies (VN) se International Covenant on Civil and Political Rights van 1976 wat Suid-Afrika in 2015 bekragtig het, aangehaal.

In artikel 1 van dié verdrag word state opdrag gegee om volke binne sy grense die geleentheid te bied om sosiale, ekonomiese en kulturele uitlewing na te jaag.

Dit is in teenstelling met die ANC-regering se doelgerigte poging om kulturele verskeidenheid deur onderwys uit te wis.

Die huidige aanslag op die kompromis van die 1996-Skolewet, waarvolgens gemeenskappe hul skole kan bestuur maar die staat beheer oor leerinhoud neem, wil onderwys geheel en al in staatshande plaas. Dit geld skool- en naskoolse onderrig.

Terwyl onderwyslui tot onlangs woorde soos “selfbeskikking” bykans ten alle koste sou vermy, word dit al duideliker dat dit presies die reg is waarop kultuurgroepe wat onderwys na hul aard wil behou, hulle sal moet beroep.

Dit is ʼn internasionaal erkende reg en is selfs formeel deur die regering erken..

In reaksie het lede van die ANC en EFF die standpunt ingeneem wat die debat in die eerste plek genoodsaak het: Dat minderhede in Suid-Afrika hulle na die meerderheid moet skik en moet ophou om hul eie kulture in onderwys te vergestalt.

ʼn Aanslag is selfs op Afrikaanse onderrig in Soltech geloods, as sou dit uitsluitend wees.

Hierdie beskuldiging is met ʼn teenvraag beantwoord: As alle openbare kolleges wat tegniese onderrig bied Afrikaans uitsluit, hoe is dit uitsluitend as een instelling met daardie taalgemeenskap se eie fondse opgebou word?

Die enigste redelike afleiding uit hierdie debat is dat die ANC ʼn tirannie van die meerderheid tot stand wil bring en in stand wil hou.

Om die ANC volgende jaar by die stembus te verslaan, sal nie genoeg wees nie. ʼn Konstitusionele bedeling wat die kulturele verskeidenheid van die land erken, sal in die plek van die huidige onderdrukking van minderhede geskep moet word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.