‘n Misdaadvoorkomingsindaba wat die Ray Nkonyeni-plaaslike munisipaliteit (RNM) vandeesweek op Port Shepstone aangebied, is net op die regte tyd om bewusmaking oor groeiende korrupsie en misdaad in die munisipaliteit aan te wakker.
Verskeie belanghebbendes soos die RNM-belastingbetalersvereniging, gemeenskappolisiëringsforums (GPF’s), sekuriteitsmaatskappye, landbouverenigings, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die departement van binnelandse sake het die indaba bygewoon.
Die indaba gee die VF Plus moed vir die vooruitgang en veiligheid van die inwoners van die RNM. Dit kan nie meer ontken word dat misdadige aktiwiteite in die munisipaliteit hoogty begin vier nie.
Dit is nou meer as ooit belangrik vir die inwoners van Ray Nkonyeni om hande te vat om dorpe en openbare ruimtes van misdadigers terug te neem.
Die VF Plus doen 'n beroep op inwoners om betrokke te raak by hul plaaslike buurtwagte en GPF’s en om self ook verantwoordelikheid vir hul veiligheid te neem.


