fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus-gelukwensing aan top wiskunde-onnie

Die VF Plus wens me. Antonette Jordaan, 'n aktiewe lid van die party in Polokwane, geluk nadat sy onlangs as beste onderwyser in die Limpopo-provinsie aangewys is.

Jordaan gee wiskunde aan die Tom Naude Hoër Tegniese Skool in die stad. Skole nomineer onderwysers vir hierdie prestige-toekenning op distriksvlak, waarna distrikswenners op provinsiale vlak meeding.

Daarna volg 'n landwye toekenning, waarvan die uitslag op 20 Oktober 2022 bekendgemaak word.

Die VF Plus se raadslid in die stad, me. Susan Clarke, is trots op haar dogter wat die prestasie behaal het. Sy noem dat haar dogter die dienende aard van die onderwys met 'n sterk werksetiek kombineer.

Aan tegniese skole is gehalte wiskunde-onderrig ononderhandelbaar.

Jordaan lê juis klem op die bruikbaarheid van konsepte wat in die klas geleer word. Daarom hanteer sy dikwels navrae van oud-leerlinge wat probleme in die werksplek met haar bespreek.

Die VF Plus is tot gehalte-onderrig op skool- en naskoolse vlak verbind en besef die noodsaaklikheid van wiskunde.

Trouens, die belang van wiskunde word so wyd erken dat 'n knap en gewilde wiskunde-onderwyser byna gewaarborg is om raakgesien te word.

Daarom is die party bly dat iemand met Jordaan se vaardighede nie groener weivelde buite die onderwys soek nie, maar dit tot beskikking van die jeug stel.

Wanneer die landwye wenners op 20 Oktober aangekondig word, sal die VF Plus fyn dophou om die naam van Antonette Jordaan weereens raak te sien.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.