Die VF Plus sal ‘n mosie van wantroue bring teen die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro-munisipaliteit, Olly Mlamleli, tydens 'n raadsvergadering op Vrydag, 7 Augustus.
Alhoewel dit nog nie bevestig is of die mosie per geheime stemming sal plaasvind nie, is die VF Plus oortuig daarvan dat dit in die beste belang van alle inwoners sal wees.
Dienslewering en goeie munisipale bestuur het die afgelope jare drasties verswak en die metro is eenvoudig nie daartoe in staat om dienste te lewer, finansiële dissipline toe te pas en daardeur ekonomiese groei te verseker nie.
Die posisie waarin die metro hom bevind, kan suiwer aan die tekort aan leierskap toegeskryf word en daarom moet politieke leierskap verantwoordelik gehou word.
Indien die speaker, Mxolisi Siyonzana, die vergunning maak vir ‘n geheime stemming, sal metroraadslede uiteindelik die geleentheid kry om individueel eties te besluit en ‘n sterk boodskap te stuur dat swak leierskap tot nadeel van inwoners nie langer geduld sal word nie.
Alle inwoners verdien ‘n beter plaaslike regering en die VF Plus moedig alle raadslede in die metro aan om inwoners bo politiekery te plaas. Alle raadslede van die metro oor partygrense heen behoort hierdie mosie te steun sodat ware demokrasie uiteindelik kan seëvier in belang van beter dienslewering en verantwoordbaarheid.
Navrae: 082 305 1540