fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus slaag om Mangaung-burgemeester te verwyder

Die VF Plus se mosie van wantroue in die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro-munisipaliteit, Olly Mlamleli is op Vrydag se raadsvergadering deur ‘n meerderheid van raadslede ondersteun. Die geslaagde mosie verwyder Mlamleli as burgemeester.

‘n Groepering van ANC-raadslede het egter na die stemming plaasgevind en die uitslag bekend geword het, die vergadering verlaat sodat kworum nie gehaal is tydens die amptelike aankondiging van die uitslag nie. Dit verander egter nie die uitslag nie, aangesien daar wel ‘n kworum teenwoordig was tydens die stemming.

Die VF Plus verwelkom die feit dat die meerderheid van raadslede oor party politieke grense heen volgens hul gewetes gestem het om die burgemeester te verwyder en beskou dit as ‘n oorwinning vir die inwoners van die metro.

Dienslewering en goeie munisipale bestuur het die afgelope jare in die Mangaung-metro-munisipaliteit drasties verswak, veral sedert Mlamleli in 2016 as die uitvoerende burgemeester verkies is. Daarom is die VF Plus se mosie van wantroue in belang van die inwoners van die metro.

Die mees onlangse afgradering van die metro se kredietwaardigheid deur die kredietgraderingsagentskap, Moody’s dui op die geweldige krisis waarin die munisipaliteit homself bevind.

Inwoners word verder geteister deur enorme hoeveelhede slaggate, straat- en verkeersligte wat nie werk nie, afwesigheid van padtekens en straatname, diensleweringsprobleme wat weke neem om opgelos te word, ‘n munisipale inbelsentrum wat vir alle praktiese doeleindes buite werking is, riool sowel as skoon water wat vrylik in strate afloop asook probleme rakende munisipale rekeninge. Bykomend hiertoe oorskry die metro se laste sy bates en kom hy ook nie sy finansiële verpligtinge na nie.

Die posisie waarin die metro hom bevind, kan suiwer aan die tekort aan leierskap toegeskryf word en daarom moet die politieke leierskap verantwoordbaar gehou word.

Alle inwoners verdien ‘n beter plaaslike regering. Die VF Plus het daarom hierdie mosie van wantroue ter tafel gelê en sal aanhou veg vir ‘n beter bestuurde metro in belang van die gemeenskap. Demokrasie het vandag uiteindelik in belang van die inwoners van Mangaung geseëvier.

Navrae: 064 847 1560

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.