Dit is bemoedigend dat Limpopo se matriekslaagsyfer vir 2023 met 7% gestyg het ondanks vele uitdagings wat skole steeds in die gesig staar.
Limpopo se slaagsyfer vir die klas van 2022 was 72,1% teenoor verlede jaar se 79,5%.
Mopani-Wes, Capricorn-Suid en Vhembe-Oos is die skooldistrikte wat die beste presteer het.
Veral Mopani-Wes kan spog met ’n slaagsyfer van 83,8%, ’n verbetering van 16,7% teenoor die 67,1% wat hy in 2022 behaal het.
Die onderwysstelsel in die provinsie word egter steeds deur uitdagings soos verwaarloosde skoolinfrastruktuur, die tekort aan voldoende klaskamers, goed opgeleide onderwysers en ‘n gebrek aan omvattende onderwysgehalteversekering geteister.
Hierdie uitdagings kan nie meer as “historiese uitdagings” beskou word nie aangesien die ANC-regering die afgelope 30 jaar genoeg kans gehad het om gehalte onderwys vir die leerders van Limpopo te verseker.
Die VF Plus wens elke matriekleerder wat geslaag het geluk en moedig leerders wat nie geslaag het nie, aan om weer te probeer en nie moed op te gee nie.