Die VF Plus verwelkom die eis van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) dat die Regspraktykraad (RPR) sy besluit om toelatingseksamens vir prokureurs, notarisse en aktevervaardigers nie meer in Afrikaans aan te bied nie, moet herroep.
Die RPR het einde verlede jaar aangekondig dat toelatingseksamens van vanjaar af in ooreenstemming met sy nuwe taalbeleid wat op 20 November 2023 aanvaar is, slegs in Engels afgelê sal word.
Die feit dat al hoe minder kandidate hul toelatingseksamen in Afrikaans wil aflê, is juis vanweë die jarelange verguising van Afrikaans deur die ANC-regering en die instel van Engels as taal van rekordhouding in hofverrigtinge, die sakebedryf en die handel.
Die miskenning van Afrikaans kom neer op ʼn blatante oortreding van die Suid-Afrikaanse Grondwet en druis in teen die gees van die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika.
Die VF Plus was in 1996 instrumenteel tot die insluiting van onder meer artikels 185 en 186 in die Suid-Afrikaanse Grondwet om die regte van taal, geloof en kultuurgemeenskappe te erken.
Die party sal nou die vordering van die ondersoek wat Pansat hieroor ingestel het ten opsigte van die RPR se besluit, noukeurig monitor.