Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vrystaat-herafbakening: Dienslewering gaan slegs verswak

Die herafbakening van munisipale grense in die Vrystaat gaan dienslewering verswak.

Die voorgestelde herafbakening gaan voort met die gefaalde metodiek om groot onvolhoubare munisipaliteite te skep.

Die verandering aan die grense van dorpe en wyke die afgelope week deur die herafbakeningsraad wat in die staatskoerant gepubliseer is, wys diensleweringsprobleme word slegs tussen munisipaliteite rondgeskuif.

Deur ‘n dorp soos Heilbron by Ngwathe-plaaslike munisipaliteit te verwyder en by die Metsimaholo-plaaslike munisipaliteit te voeg, beteken bloot skuld en probleme skuif van een munisipaliteit na ‘n ander.

Inwoners van dié dorpe is reeds besig met petisies teen die herafbakeningsvoorstelle.

Die VF Plus sou eerder wou sien dat munisipaliteite in die provinsie kleiner gemaak word om die uitvoering van dienslewering te vergemaklik.

Dit sal verwelkom word indien die afbakeningsraad die voorstel om die Maluti-A-Phofung-plaaslike munisipaliteit kleiner te maak, gunstig oorweeg.

Die voorstel om Brandfort by Mangaung in te lyf, gaan die las op die reeds bankrot metro vergroot en inwoners van die metro en Brandfort gaan ly onder swakker dienslewering.

Die VF Plus beywer hom vir kleiner, funksionele munisipaliteite wat werk vir inwoners en waar daar waarde vir belastinggeld is.

Die VF Plus moedig inwoners aan om gebruik te maak van die geleentheid om kommentaar te lewer op die afbakeningsraad se voorgestelde nuwe grense.

Uiteindelik kan die Vrystaat en sy munisipaliteite slegs gered en herbou word as elke inwoner wat stemgeregtig is, registreer en in die 2024-algemene verkiesing stem.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.