Tydens die afgelope spesiale raadsvergadering het die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Grootvlei en Greylingstad) R58,2 miljoen as vrugtelose en verspilde uitgawes goedgekeur.
Hierdie bedrag beslaan sowat 15% van die totale begroting en spruit hoofsaaklik uit rente en boetes op onbetaalde rekeninge aan Eskom, die ouditeur-generaal, die departement van water en sanitasie en die SAID (SARS).
Vrugtelose en verspilde uitgawes het van R9,6 miljoen in die 2023/24-boekjaar tot R58,2 miljoen in 2024/25 gestyg.
Hierdie skerp toename bewys dat die onderliggende skuldprobleem oor die afgelope drie jaar vererger het en dat die munisipaliteit nie meer in staat is om sy krediteure en verskaffers betyds te betaal nie.
In dieselfde tydperk het die invorderingskoers geensins verbeter nie. Die gevolg is dat inwoners wat getrou betaal, toenemend die las moet dra vir dié wat nie betaal nie.
Oor die afgelope drie jaar is reeds ’n verstommende R110 miljoen afgeskryf. Inwoners moet dus nie langer die verskoning aanvaar dat daar “nie geld vir dienste is nie”. Die ineenstorting van dienslewering is die direkte gevolg van swak bestuur en wanbestuur van fondse.
Die VF Plus voer al lank in raads- en komiteevergaderings aan dat inkomste beskerm moet word vir die spesifieke doel waarvoor dit ingevorder word. Indien hierdie R58,2 miljoen eerder aan infrastruktuur bestee is, sou die dorpe ’n tasbare verskil gesien het.
Die VF Plus het ’n aksieplan voorgestel om verdere vermorsing te voorkom, maar die ANC-beheerde raad het die voorstelle verwerp. Die amptelike finansiële herstel-, inkomste-invorderings- en besparingsplanne lewer intussen geen resultate nie.
Die VF Plus was die enigste party wat teen die aanvaarding van hierdie verspilde uitgawes gestem het.
Die party sal voortgaan om sy voorstelle in die verskillende komitees te dryf met een duidelike doel om vermorsing stop te sit en belastinggeld te bestee aan basiese dienslewering soos dit hoort.
Stem op 4 November 2026 vir die VF Plus om die misbruik van belastinggeld te stuit.
Die VF Plus staan vir verantwoordelike plaaslike regering.


