Die VF Plus sal die besluit wat die Ekurhuleni-metroraad geneem het om die instelling van ten volle funksionele munisipale howe in die metro goed te keur, noukeurig dophou om toe te sien dat dit nie by leë beloftes bly nie.
Dit volg nadat ‘n verslag van die oorsigkomitee vir korporatiewe- en gedeelde dienste oor die evaluering van die behoefte aan, en haalbaarheid van die instelling van munisipale howe in Ekurhuleni aanvaar is.
Ekurhuleni maak tans staat op landdroshowe om munisipale aangeleenthede te bereg met die gevolg dat dié sake dikwels aan die agterspeen suig waar ernstiger strafregtelike sake uiteraard voorkeur geniet.
Munisipale howe sal toegewyde vermoë bied om sake soos oortredings van munisipale verordeninge, verkeersoortredings, boubeheer en ander munisipale oortredings te hanteer, sodat hierdie sake meer doeltreffend afgehandel kan word.
Die VF Plus het egter ernstige tekortkominge in die verslag geïdentifiseer wat reggestel moet word voordat munisipale howe in Ekurhuleni tot hul reg kan kom.
Beduidende tekorte aan menslike hulpbronne bied ‘n reuse-uitdaging terwyl die bestaande organogram onvolledig is. Daar is byvoorbeeld nie voorsiening gemaak vir hoftolke of hofordonnanse nie.
Vyf van die raad se persele wat as moontlike munisipale hoflokale aangedui word, kort aansienlike opknapping terwyl die Benoni-verkeershof nie beskikbaar is om as ’n munisipale hof gebruik te word nie.
Die VF Plus wys ook daarop dat befondsing tekort skiet aangesien daar aanvanklik geen fondse in die 2026/27-begroting toegeken is nie, ten spyte daarvan dat die metro reeds besig was met beplanning vir die howe.
Inwoners van Ekurhuleni moet op 4 November 2026 vir die VF Plus stem om deel van ‘n regering te word wat sal toesien dat daar aanspreeklikheid en nakoming van hierdie inisiatief is wat deur die raad goedgekeur is.


