Die VF Plus se nasionale leier, dr. Corné Mulder, is tans besig met die landwye “Dis Ons Tyd”-toer in Mpumalanga.
Dr. Mulder het beklemtoon dat die party ʼn tasbare impak in gemeenskappe maak waar Christelike- en gesinswaardes, kultuur en moedertaal gekoester word.
Die veldtog is daarop gemik om hoop te herstel en kiesers te herinner aan die gevare van “vermorste stemme”.
Volgens dr. Mulder word ’n stem op drie maniere gemors:
• Wanneer ’n stemgeregtigde burger kies om nie te registreer nie;
• wanneer ’n geregistreerde kieser besluit om nie op stemdag te stem nie; of
• wanneer iemand stem vir ’n party wie se waardes en beginsels nie met hul eie ooreenstem nie.
Die boodskap is duidelik: Dit gaan nie oor wie die grootste party is nie. Goliat was ook groot, maar Dawid het oorwin.
Met Suid-Afrika se proporsionele kiesstelsel is die era van alleenregerende meerderheidspartye verby. Elke stem dra gewig en kan die koers van ’n gemeenskap verander.
Die VF Plus doen daarom ’n beroep op kiesers om hul stemme op 4 November te laat tel – nie net as ’n politieke daad nie, maar as ’n daad van verantwoordelikheid teenoor hul gesinne, gemeenskappe en die toekoms van Mpumalanga.
Die krag van elke stem lê daarin dat dit ’n verskil kan maak waar dit die nodigste is: In die daaglikse lewe van gewone mense.


