Die VF Plus veroordeel die chaos en gepaardgaande plundering wat Dinsdag en Woensdag in die Kgetlengrivier-plaaslike munisipaliteit (Koster, Derby en Swartruggens) losgebars het toe strydende ANC-faksies hoofroetes afgesper en infrastruktuur beskadig het.
Die samestelling en finalisering van die ANC se kandidaatlyste in Kgetlengrivier vir die komende munisipale verkiesing is volgens bronne in die gemeenskap die hoofoorsaak vir die onrus.
Dit is ‘n skande dat hierdie dorpe weereens gyselaar gehou word en moet ly onder die chaos en wettelose kultuur wat skynbaar onder ANC-ondersteuners hoogty vier. Hul absolute minagting vir die belange van plaaslike inwoners en vir ‘n ordelike samelewing word in hul optrede weerspieël.
Groot skade is aan kritieke infrastruktuur soos paaie aangerig en ‘n trok met kruideniersware is onder meer geplunder.
Die skadelike impak op die plaaslike ekonomie is enorm. Die N4-hoofroete na Botswana is by Swartruggens afgesper asook die R30 wat Rustenburg met ander belangrike sentra in die Noordwes verbind.
Sakeondernemings se werksaamhede is tot stilstand gedwing en kinders is verhinder om by hul skole uit te kom.
Hierdie soort optrede hou ‘n ernstige bedreiging in vir die voortgesette lewensvatbaarheid van die dorpe in die omgewing. Voornemende beleggers word reeds afgeskrik deur swak dienslewering in dié ANC-beheerde munisipaliteit.
Kiesers moet in die komende verkiesing saamstaan en saam met die VF Plus opstaan om te verseker dat die ANC uit die beheer van die munisipaliteit verwyder word.