fbpx
Vryheidsfront Plus

Julie-onrus deel van ANC-regering se selfverterende vuur

(Debat in NRP oor onlangse openbare geweld, plundering en vernietiging van eiendom)

Die beelde van rook, ontploffings, chaos en anargie wat verlede maand voor Suid-Afrika en die wêreld afgespeel het tydens die grootskaalse onrus en geweldpleging in die land, het onvermydelik die vraag laat ontstaan of dit die nuwe gesig van Suid-Afrika is.

Terselfdertyd was die beeld van ‘n vuur wat homself en alles om hom vernietig ook die verpersoonliking van die ANC-regering en wat hy oor die laaste 27 jaar met die land gedoen het.

As weerligafleier het die ANC armoede, ongelykheid en rassespanning voorgehou as die rede vir die plundering en geweldpleging. Die ANC se onbevoegdheid wat almal in die land direk raak, word verswyg.

Om by die ware redes uit te kom, moet die volgende gevra word:

• Wie blaas voortdurend rassespanning aan deur onder meer gevaarlike politieke retoriek?
• Wie se skuld is werkloosheid?
• Wie wil die reeds kritieke ekonomie verder vernietig deur “radikale transformasie” te dryf op elke wyse moontlik, van wetgewing tot opstande?
• Wie help sukkelende sake-ondernemings slegs op grond van ras ten koste van die ekonomie en arbeidsekerheid?

Is die antwoord dalk dat hierdie mense deel is van diegene wat straks doelbewus weggekyk het toe gerugte van spanning en onrus begin broei het en daar nie betyds opgetree is om die geweld te voorkom wat die land in puin kon lê nie?

Na raming was die skade van die paar weke se onrus aan die BBP sowat R50 miljard. Die land kan dit bloot nie bekostig nie. Midde in hierdie huidige ekonomiese en maatskaplike moeras wat die maaksel van die ANC is, gee die regering nou ‘n bedrag van R350 aan werkloses onder die dekmantel van ‘n noodtoelaag. Dit is niks anders nie as ‘n manier om stemme te koop en mense afhanklik aan die regering te hou.

Nog ‘n brandende kwessie wat tydens die onrus opnuut na vore gekom het, is dié van vuurwapenbesit vir selfverdediging en ‘n minister van polisie (Bheki Cele) wat ontwapening van die burgery voorstaan terwyl hy met sy horde lyfwagte die geplunderde gebiede eers besoek het toe die as reeds koud was.

Dit is dieselfde minister wat só erg teen private wapenbesit gekant is dat die vermoede tereg kan onstaan of die groot warboel en agterstand met die verwerking van vuurwapenlisensie-aansoeke nie ‘n subtiele poging tot ontwapening van die burgery deur doelbewuste administratiewe rompslomp is nie.

Suid-Afrikaners gaan egter nie so maklik moed opgee en lê nie. Veral nie voor ‘n regering wat deur die ANC beheer word nie. Die toekoms sal die huidige minister van polisie onthou as een van die vele skandvlekke op die regeringstermyn van die ANC.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Armand Cloete

Premier moet ingryp by Matjhabeng-waterkrisis

Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia,

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.