Die VF Plus het die premier van Gauteng, David Makhura, dringend versoek om fluitjieblasers te beskerm ná die skietdood van Babita Deokaran, ‘n senior finansiële beampte van die Gautengse gesondheidsdepartement, wat ‘n getuie was in ‘n ondersoek na bedrog in dié departement.
Deokaran is Maandagoggend buite haar huis in die suide van Johannesburg doodgeskiet. Sy was ‘n getuie oor bewerings van die onreëlmatige en onwettige verkryging van persoonlike beskermende toerusting in die gesondheidsdepartement. Sy het onder meer verhinder dat betalings vir onwettige kontrakte geskied.
Die dood van Deokaran is ‘n geweldige verlies omdat haar integriteit en eerlikheid asook haar strewe na ‘n korrupsievrye regering bo alles uitgestyg het.
Haar sluipmoord was ‘n duidelike boodskap aan alle fluitjieblasers dat hul lewe nie veilig is nie en daarom moet premier Makhura verder met die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Malwela, skakel om te sorg dat mense soos Deokaran beskerm word. Selfs al lei dit tot die aanstel van ‘n private sekuriteitsmaatskappy.
Indien premier Makhura nie die lewe van fluitjieblasers bevredigend kan verseker nie, is Gauteng niks anders as ‘n bendestaat nie.
Die VF Plus spreek sy medelye uit met Deokaran se naasbestaandes en gee erkenning aan haar as ‘n heldin wat in ‘n moeras van misdadigheid haar morele kompas gevolg het.