Die Ekurhuleni-metro se onstabiele kragvoorsiening aan Germiston het daartoe gelei dat ʼn kerk en ʼn skool nie ten volle kan funksioneer nie.
Die Laerskool Delville het op 1 April die metro versoek om ondersoek in te stel na sy kragvoorsiening omdat die skool net twee fases krag ontvang in plaas van die drie fases waarvoor die skool betaal.
Die skool moet van kragopwekkers gebruik maak vir bykomende kragvoorsiening.
Tot op hede het die metro nie aandag aan die probleem geskenk nie.
Die Nederduits Hervormde-gemeente in Elsburg het vanaf 8 April net een fase krag nadat ʼn kragkabel vanuit ʼn kragboks voor die kerk gesteel is.
Die kerk wag steeds vir ʼn elektrisiën om dit te herstel.
Die VF Plus het die metro se energie-departement versoek om onmiddellik aan die kragprobleme aandag te gee.
Die party het ook ʼn lys van onwettige kragaansluitings aan die departement deurgegee.
Kragprobleme word daagliks in Germiston aangemeld, maar dit is duidelik nie ʼn prioriteit vir die metro nie.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die metro en die energie-departement om sy verpligtinge teenoor getroue belastingbetalers en instansies na te kom.


