fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC keur R700 000 salarisverhoging goed vir stadsbestuurder van Mangaung

Die ANC het gister tydens ‘n raadsvergadering van die Mangaung-metroraad besluit om die salaris van die stadsbestuurder, mnr. Sello More, tot die hoogste kerf van die hoogste salarisskaal te verhoog.

More is verlede jaar aangestel en is nog nie eens ses maande in die pos nie.

Hierdie is in geheel ‘n irrasionele en ondeurdagte besluit van die ANC-meerderheid op die raad wat hulle aan die neus laat lei deur die stadsbestuurder en departementshoofde inaggenome die feit dat die Mangaung-metro bankrot is en onder ‘n artikel 139 (5)-intervensie van die nasionale regering is.

Die stadsbestuurder kry ‘n verhoging van meer as R700 000 wat sy salaris op sowat R2,45 miljoen per jaar sal bring.

Dit beteken dat die Mangaung-stadsbestuurder min of meer dieselfde verdien as ‘n minister in die kabinet en heelwat meer as ‘n adjunk-minister wat R2 098 243 per jaar verdien.

Dié R700 000 kon talle diensleweringsprobleme in die metro aangespreek het.

Daar is strate waar kinders in riool speel wat op plekke enkeldiep deur die woonbuurte stroom.

Daar is inwoners in die munisipaliteit wat nog die emmerstelsel moet gebruik, maar die ANC is bereid om selfs sy eie kiesers tesame met al die ander inwoners te verloën om een kader ter wille te wees.

Bloemfontein gaan gebuk onder swak dienslewering wat insluit geen of min vullisverwydering, waterlekkasies, wateronderbrekings, slaggate en stukkende verkeersligte, padtekens en padmerke wat ontbreek en ‘n rioolnetwerk wat op die punt is om in geheel in duie te stort.

In die lig hiervan is die vermorsing van R700 000 op een amptenaar, wat reeds ‘n buitensporige salaris verdien, ‘n skreiende skande. Dit is ‘n klap in die gesig van die inwoners van Mangaung wat geen dienste kry nie, maar meer aan salarisse sal moet opdok.

Die kiesers moet op 29 Mei van die ANC ontslae raak om die land en die Mangaung-metro te herstel en bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.