Met bykans 15 miljoen Suid-Afrikaners wat volgens die land se uitgebreide werkloosheidsyfer van 41,1% (Statistieke Suid-Afrika – SSA) nie werk het of werk kan kry nie, het mense wat gelukkig genoeg is om wel ʼn werk te hê, seker rede om dié dag met voorbehoud te vier.
Die gewone werkloosheidsyfer, bestaande uit mense wat aktief werk soek, staan op 32,1% (11,7miljoen). Hierteenoor het 18,9 miljoen mense teen Maart verlede jaar werk gehad (Statista).
Onder die ANC-regering het ekonomiese agteruitgang in Suid-Afrika só skerp toegeneem dat die dag eerder Werkloosheidsdag genoem moet word. Nogtans sien die ANC hierdie syfers as ʼn “oorwinning oor apartheid” eerder as die diepliggende krisis wat dit is.
Op die regering se webblad oor Werkersdag (https://www.gov.za/WorkersDay2022) word gesê die dag dien as ‘n viering van werkers se regte en as ‘n herinnering aan die kritieke rol wat vakbonde, die Kommunistiese Party en ander arbeidsorganisasies in die stryd teen apartheid gespeel het.
Dit is duidelik die ANC besef nie dat werkskepping net sal plaasvind as regeringsbeleid verander om ʼn gunstige omgewing vir beleggers te skep om die ekonomie te laat groei nie.
Sonder ekonomiese groei kan daar nie werk geskep word nie en daar kan nie sprake van vryheid wees soos wat Suid-Afrika op 27 April gevier het nie.
Onbuigsame arbeidswetgewing is een van die grootste hindernisse in die pad van ekonomiese groei en werkskepping in die land. Nie net is dit moeilik om onbekwame werkmense uit diens te stel nie, dit is ook ʼn voortdurende stryd om aan transformasieteikens te voldoen.
In die VF Plus se Verkiesingsmanifes 2024 word dit duidelik uitgespel dat die land net weer opgebou kan word deur werkskepping wat net deur ʼn gesonde ekonomie gestimuleer sal word. Die staat kan nie werk skep nie.
Arbeidswetgewing moet aangepas word om werkskepping te bevorder terwyl billike arbeidspraktyke steeds in stand gehou moet word.
Stakings en in besonder onwettige stakings wat tot die verlies van honderdduisende werksgeleenthede lei, moet daadwerklik beperk en verbied word.
Vakbonde se mag moet ingeperk word en hul onverantwoordelike optrede wat tot werkverliese lei, moet met kragtige wetgewing verhinder word.
Transformasieteikens en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) moet uit regeringsbeleid verwyder word. Dit sal die private sektor aanmoedig om die beste moontlike personeel aan te stel om ekonomiese groei te bevorder.
Hierdie dinge kan net gebeur deur van die ANC ontslae te raak. Dié geleentheid doen hom voor op 29 Mei vanjaar wanneer Suid-Afrikaners hul stem kan en moet gebruik om seker te maak Werkersdag word voortaan om die regte redes gevier.