Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Inwoners van Ekurhuleni moet deelneem aan openbare deelnameproses oor GOP en begroting

Die VF Plus doen ʼn beroep op inwoners van die Ekurhuleni-metro om deel te neem aan die openbare vergaderings oor die hersiene geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en die konsepbegroting vir die 2024/25-finansiële jaar om insette te lewer tot vooruitgang van die metro.

Die GOP is ʼn konsepplan wat die metro se groei en ontwikkeling vir vyf jaar breedvoerig uitspel.

Die openbare deelnameproses om die GOP vas te stel, is die een geleentheid, buiten die verkiesing van raadslede, wat die inwoners van Ekurhuleni het om insette te lewer oor hoe die wyke waarin hulle woon en die metro in geheel bestuur moet word.

Tans word die GOP vir 2024/25 egter hersien en is daar weer geleentheid vir inwoners om insette te lewer vir die daarstel van ʼn gewysigde GOP.

Daarom is dit van kardinale belang dat inwoners van hierdie wysigings verwittig word en geleentheid gegun word om insette te lewer.

As deel van ʼn openbare deelnameproses het inwoners die geleentheid om vergaderings by te woon waartydens die konsepgewysigde GOP behoorlik uiteengesit sal word en die inwoners kommentaar en insette sal kan lewer wat in ag geneem moet word.

Die vergaderings sal vanaf 9 tot 19 April plaasvind.

Daar sal onder meer openbare vergaderings as volg gehou word:

9 April 2024 om 18:30 : Boksburg: Reigerpark-gemeenskapsaal
11 April 2024 om 18:30 : Germiston-stadsaal
11 April 2024 om 18:30 : Brakpan-sportsentrum
12 April 2024 om 18:30 : Edenvale: Sam Hlalele-saal
12 April 2024 om 18:30 : Springs-hoofsaal (Supper Hall)
15 April 2024 om 18:30 : Alberton-stadsaal
15 April 2024 om 18:30 : Kemptonpark-stadsaal
15 April 2024 om 18:30 : Nigel: MacKenzie-saal
16 April 2024 om 18:30 : Benoni: Actonville-gemeenskapsaal

Die volledige geskeduleerde openbare vergaderingslys en hoe die openbare deelname-proses werk, kan by die volgende skakel verkry word: https://www.ekurhuleni.gov.za/campaigns/idp/

Skriftelike kommentaar kan ook gestuur word na budgettips@ekurhuleni.gov.za. Skriftelike kommentaar moet die metro voor 19 April 2024 bereik.

Die konsepbegroting sowel as die voorgestelde GOP is beskikbaar by alle biblioteke, dienssentrums en die metroraad se webtuiste by www.ekurhuleni.gov.za.

Die VF Plus moedig inwoners aan om die proses nie bloot as ʼn niksseggende rubberstempel van die Munisipale Strukturewet te beskou soos in die verlede nie, maar as ʼn geleentheid waar elke inwoner doelgerigte insette kan lewer vir die verbeterde bestuur van elke wyk in die metro.

Hierdie proses is veral van groot belang aangesien die metro tans sonder behoorlike politieke leierskap is en die bestuur daarvan bloot in die hande van die metro se administrasie oorgelaat word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.