Groot dele van die Tshwane-metro is steeds sonder krag ná die hewige storm wat die stad Dinsdagaand getref het.
In Pretoria is gedeeltes van die Moot (Rietfontein, Villieria, Eloffsdal, Rivieria, Deerness en Môregloed), Kameeldrif-Wes, Boekenhoutkloof en Andeon sonder krag.
Kragtoevoer by die Rooiwal-kragstasie is intussen herstel.
Die Rooiwal-watersuiweringsaanleg en omliggende boeregemeenskappe wat hul elektrisiteit van dié kragstasie ontvang, is egter steeds sonder krag.
Die Pyramid-substasie waar ʼn brand uitgebreek het, is nog nie herstel nie.
Die metro se departement vir energie en elektrisiteit is sedert Dinsdagaand besig om skade aan die kragnetwerk te herstel. Die departement kan in die stadium nie ʼn aanduiding gee wanneer herstelwerk voltooi sal wees nie.
Die voortslepende onwettige Samwu-staking en georganiseerde misdaad dra by tot die stadiger pas waarteen herstelwerk voltooi word.
Die VF Plus verstaan die frustrasie van talle kleinsake-ondernemings soos tuindienste, motorhawens en slaghuise wat gedwing is om tydelik hul deure te sluit weens die kragonderbrekings.
Baie van dié ondernemings kan ook nie kragopwekkers of die brandstof daarvoor bekostig nie.
Die VF Plus sal as koalisievennoot in die metro alles in sy vermoë doen om toe te sien dat die kragnetwerk so spoedig moontlik herstel word.