Die VF Plus het vir die tweede keer vanjaar die ANC/EFF-beheerde Ekurhuleni-metroraad se 2024/25-begroting verwerp aangesien dit heeltemal ontoereikend is wat goeie dienslewering aanbetref.
Weens die VF Plus en ander opposisiepartye se teenstand kon die begroting nie aanvaar word nie en is dit teruggestuur vir hersiening.
Die VF Plus vind dit onaanvaarbaar dat die nuwe begroting, wat op 7 Junie voorgelê is, presies dieselfde een is wat op 31 Mei voor die raad gedien het en verwerp is.
Die ANC/EFF-metroregering was veronderstel om die nodige aanpassings te doen nadat dit verwerp is, maar dit het nie gebeur nie.
Fondse in die begroting is roekeloos toegeken sonder om ʼn balans te vind rakende goeie dienslewering aan al die inwoners van Ekurhuleni. Die bevordering van ekonomiese groei is ook nie ʼn prioriteit nie.
Dit blyk dat die fokus op basiese diensleweringsprobleme, onderhoud en herstelwerk, net vir informele nedersettings ʼn prioriteit is. Die VF Plus is van mening dat daar ʼn diensleweringsbalans regoor die metro moet wees.
Verder is die voorgestelde tariefverhogings ook nie billik nie en gaan dit die inwoners in ʼn groter finansiële verknorsing plaas.
Dit is baie duidelik dat die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Nkululeko Dunga van die EFF, geen idee het wat in Ekurhuleni aangaan nie en uit voeling is met die realiteite in die metro.
Die VF Plus vind dit onaanvaarbaar dat die ANC/EFF-metroregering Ekurhuleni se inwoners gyselaar hou weens ʼn swak en onbillike 2024/25-begroting.
Die VF Plus sal aanhou met sy pogings om sy eie voorstelle en bydraes in die aangepaste begroting te kry wat teen 14 Junie 2024 vir ʼn derde keer voorgelê moet word vir goedkeuring.