Die VF Plus is bekommerd daaroor dat die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM) nog nie sy 2024/25-begroting goedgekeur het nie. Dit terwyl die sperdatum van 1 Julie, waarop dié begroting in werking moet tree, vinnig nader kom.
Tot op hede het geen begroting uit die burgemeester, Gary van Niekerk, se kantoor gekom nie en geen amptelike rede is aan die raad verskaf vir die versuim daarvan nie.
Volgens die Munisipale Finansiële Bestuurswet moet ʼn begroting voor of op 31 Mei voor die raad dien.
Die VF Plus vermoed dat die konsepbegroting tans tekorte toon en volgens die nasionale tesourie (NT) moet die begroting ‘n surplusbegroting wees.
Indien die begroting nie voor die eerste dag van die nuwe finansiële jaar (1 Julie 2024) goedgekeur word nie, moet die provinsiale regering die raad ontbind. Daar sal dan ‘n herverkiesing van die raad moet plaasvind.
Verder moet ʼn meerderheid van raadslede ʼn begroting goedkeur.
Die verwagting is dat die ANC-, EFF-, PA-, en NA-beheerde metroregering die begroting gaan afdwing op die raad en dit gaan goedkeur, nieteenstaande ʼn laer invorderingskoers en moontlike buitensporige verhoogde tariefaanpassings.
Die goedkeuring van ʼn onvoldoende begroting vir die volgende finansiële jaar kan ernstige gevolge inhou vir dienslewering veral in hierdie tyd waar verswakte infrastruktuur en ʼn gebrek aan instandhouding ‘n wesenlike probleem is.