Die VF Plus het geweier om die Buffalo City-metroraad se vrouekomitee-koukusvergadering, wat oor die volgende drie dae strek, by te woon weens die koste daaraan verbonde.
Die beplande vrouekomitee-koukus en “strategiese beplanning en kapasiteitsessie” van 1 tot 3 Junie vind plaas in die Royal St Andrews Hotel in Port Alfred teen ‘n koste van R115 501.
Dit sluit onder meer in verblyf vir 20 persone teen R1 375,00 per nag.
Die res van die bedrag bestaan uit die huur van die lokaal en verversings. Dit sluit nie die brandstofkoste in wat raadslede van die metro kan terugeis nie.
Buffalo City wat onder meer Oos-Londen en King William’s Town bedien, se dienslewering skiet ver tekort. Om daarom soveel geld te bestee aan ‘n vergadering, is ‘n klap in die gesig van getroue belastingbetalers.
Port Alfred, wat deel uitmaak van die Ndlambe-plaaslike munisipaliteit, is 138km vanaf Oos-Londen waar die meeste vroulike raadslede woon.
Buffalo City kon eerder die geleentheid teen ‘n fraksie van die prys in Oos-Londen se stadsaal aangebied het en van plaaslike diensverskaffers gebruik gemaak het.
Die VF Plus het ook vrae aan die speaker, Humphrey Maxegwana, gerig oor wie die uitgawe goedgekeur het synde dit nie voor die raad gedien het vir goedkeuring nie.
Die VF Plus sal nie toekyk hoe inwoners wat reeds gebuk gaan onder swak dienslewering, se swaarverdiende geld langer misbruik word nie en sal die ANC tot verantwoording roep.