fbpx
Vryheidsfront Plus

Miljarde vir Eskom-skuld: Dié soort hulp skep verpligting om werklike ‘n regverdige energiebedeling te skep

Die nuusagentskap Bloomberg berig dat die Verenigde Koninkryk (VK) tans oorweeg om sowat R15,6 miljard van Eskom se skuld te waarborg.

Dit kan die Suid-Afrikaanse regering grootliks help aangesien die staat tans Eskom se skuld waarborg.

Die land se kredietgradering is egter twee kerwe onder beleggingsgraad, wat die koste van staatskuld opjaag en die beskikbaarheid daarvan benadeel.

Indien hierdie waarborg werklikheid word, is dit deel van die hulppakket van $8,6 miljard (R134 418 miljard) vir 'n regverdige energieoorgang wat Amerika, die VK, Duitsland, Frankryk en die Europese Unie (EU) met die COP26-klimaatberaad beloof het.

Dit moet die maatskaplike uitdagings wat die uitfasering van steenkool sal inhou, verlig.

Alhoewel R15, 62 miljard 'n groot bedrag is, word dit deur die totale Eskom-skuld van R396 miljard verdwerg. Dit is net minder as vier persent van die totaal.

Nogtans kan dit die druk op Eskom en die staat verlig, sodat koolstofneutrale energie 'n groter deel van die totale energiemengsel kan uitmaak.

Groot, gesentraliseerde kragopwekking deur die gebruik van fossielbrandstowwe, het industrialisering in die twintigste eeu gedryf. Die tyd daarvoor is egter so verby as wat trekdiere se tyd 'n eeu gelede verby was.

As plaasvervangers word kleiner kernkragsentrales voorgestel, naas son- en windkrag en groen waterstof wat tot die geledere van ekonomies lewensvatbare alternatiewe begin toetree.

Indien die huidige kragkrisis opgelos word, sal dit die Suid-Afrikaanse ekonomie grootliks stabiliseer.

Behalwe vir die vernietiging wat beurtkrag tans veroorsaak, rig rekordhoë petrol- en dieselpryse ook skade aan. Ironies genoeg is vervoer wat van hierdie brandstowwe afhanklik is, stadigaan besig om ook verouderde tegnologie te word.

Aanduidings is dat bestaande motorvoertuie met elektriese voertuie vervang sal word en swaarvoertuie waterstofgedrewe enjins sal kry.

Die groot voordeel hiervan is dat al die energie in Suid-Afrika vervaardig kan word. Die land sal dus onafhanklik van die wispelturige internasionale energiemark raak.

Dit is natuurlik dat gemeenskappe wat van die steenkoolekonomie afhanklik is, hierdie ontwikkelings as 'n bedreiging ervaar. Daarom is dit noodsaaklik dat die oorgang geleidelik plaasvind.

Daar kan egter verwag word dat nuwe werksgeleenthede geskep sal word en dat die groter stabiliteit die vernuwingsproses sal versterk.

Voor die beter toekoms egter kan aanbreek, moet die huidige krisis oorkom word. Daarom word die moontlike waarborg verwelkom, al sal dit op sigself nie die krisis afweer nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.