fbpx
Vryheidsfront Plus

Lig in die tonnel met Johannesburg-metro se begroting

Met die 2022/23-begroting van die Johannesburgse metro is daar nie net gepoog om die metro na herstel te lei nie, maar om ‘n begroting daar te stel in belang van die belastingbetalers.

Die VF Plus, as lid van die koalisieregering, het die nuwe begroting van R77.3 miljard gesteun om die volgende redes:

• In die goedgekeurde begroting is R1.2 miljard begroot vir die opgradering en herstel van City Power se kragnetwerk.
• R1.1 miljard is begroot om die padnetwerk te herstel.
• Die stad se waternetwerk se operasionele begroting is R13.9 miljard.
• Daar is ook ‘n operasionele begroting van R3.5 miljard aan Pikitup toegestaan vir vullisverwydering.
• ‘n Bedrag van R1.3 miljard is aan openbare veiligheid bewillig vir die aanwending vir meer sigbare polisiëringsprogramme. ‘n Program teen grondbesetting is ook goedgekeur.
• Die begroting sal fokus om kabeldiefstal en vandalisme van infrastruktuur te verminder.
• In die begroting is R200 miljoen bewillig om noodsaaklike brandweervoertuie aan te koop.

Goeie nuus vir die verbruiker is dat die metro met fase 3 van sy skuld-rehabilitasieprogram begin waar agterstallige verbruikers met finansiële uitdagings en ‘n huishoudelike inkomste van minder as R22 000 per maand, kwalifiseer vir 50% afslag op hul uitstaande diensterekening.

Pensioenarisse met ‘n inkomste van R0 tot R11 305 ontvang 100%-afslag op sekere dienste. Pensioenarisse wat tussen R11 305 tot R19 377 verdien, kan 50%-afslag ontvang.

Die 100%-afslag op grondbelasting vir pensioenarisse ouer as 70 jaar met munisipale eiendomswaardes van minder as R2.5 miljoen is nog steeds van toepassing.

Die VF Plus steun ook die besluit van die burgemeester, Mpho Phalatse, om die kontrakte van alle substandaard kontrakteurs op te skort wat nie die voorwaardes daarvan nakom nie.

Nuwe verhogings is as volg:

4.85% vir grondbelasting
5% vir Pikitup
9.75% vir sanitasie

Die stad het nie beheer oor die verhoogde elektrisiteit- en watertariewe nie omdat Nersa en Randwater die riglyne bepaal. Die verhogings is 7.4% vir elektrisiteit en 9.75% vir water.

Die VF Plus het gewaarsku dat die koalisieregering ‘n verantwoordelikheid het teenoor die verbruikers van Johannesburg om te verseker dat hulle korrekte diensterekeninge ontvang.

Die Johannesburgse metro sal geakkrediteerde kontrakteurs gebruik om die stad te herstel en daarom is dit belangrik dat die koalisieregering eerlik, opreg en deursigtig moet optree om seker te maak dat korrupsie en wanadministrasie uit departemente verwyder word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.