Amerika het duidelik ‘n finale streep in die sand getrek toe hy Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, sonder seremonie uit die land geskop het.
Die boodskap van Amerika se minister van buitelandse sake, Marco Rubio, dat Rasool “PERSONA NON GRATA” is en daar niks meer is om met hom te bespreek nie, is duidelik ook gerig aan die Suid-Afrikaanse regering.
Dit is duidelik dat die ANC tot nou toe nie die erns en krisis van die land se verhouding met Amerika en die gevolge van sy anti-Amerikaanse optrede besef of verstaan het nie.
Die ANC het eensydig Suid-Afrika se internasionale betrekkinge en verhouding met Amerika gekaap as sy eksklusiewe domein terwyl hy deel is van ‘n regering van nasionale eenheid. Dit sal herbesoek moet word.
Wat hier gesien word, is die gevolge van kaderontplooiing waar ‘n ANC-meeloper as ambassadeur aangestel word en nie ‘n professionele diplomaat wat werklik in belang van Suid-Afrika en nie net die ANC nie, optree.
Dit is verstommend dat Rasool in die eerste plek as ambassadeur na Amerika gestuur is gegewe sy mediabeeld as simpatiseerder met terreurorganisasies soos Hamas en Hezbollah en sy gevoel teenoor Israel.
President Cyril Ramaphosa sal vandag besef ‘n “potjie gholf” saam met president Trump gaan die verhouding nie red nie. Wat nou nodig is, is gebalanseerde buitelandse beleid en diplomatieke verhoudings wat tot voordeel van Suid-Afrika en al sy mense strek.


