Kabeldiewe het die afgelope week op woonbuurte in Pretoria-Moot toegeslaan en huishoudings vir dae sonder krag gelaat.
Veral Rietfontein, Gezina, Capitalpark en Wonderboom-Suid is geteiken.
Oorhoofse kragkabels is deesdae kabeldiewe se fokus.
Hulle gooi vermoedelik ʼn tou oor die kabel wat die kragpaal aan die huis se dak verbind. Die tou word dan aan ʼn voertuig vasgemaak om die kabel af te ruk.
Die Tshwane-metro het slegs twee mobiele hyskrane wat die Moot bedien wat veroorsaak dat dit langer neem om herstelwerk te doen.
Baie inwoners beskik nie oor die finansiële vermoë om in sonkrag of ʼn kragopwekker te belê nie en moet bederfbare voedsel weggooi ná so ‘n diefstal.
Die VF Plus doen ʼn beroep op inwoners om waaksaam te wees en dadelik die polisie te skakel indien hulle enige verdagte aktiwiteite waarneem.
Sindikate is besig om die metro se kraginfrastruktuur te vernietig en almal sal moet saamwerk om dit stop te sit.


