(Debat in parlement: Die belangrikheid van die uitbreiding van die samestelling van lande wat die Brics-blok uitmaak om die suid-suid-agenda en die transformasie van die internasionale multilaterale instellings te bevorder)
Die onlangse Brics-beraad het min tasbare uitkomste gebring vir Suid-Afrika wie se lidmaatskap van Brics grootliks simbolies is. Suid-Afrika is die kleinste en ekonomies onbeduidendste lid van die groep.
Die uitbreiding van Brics sal Suid-Afrika se betekenis verder verklein ten gunste van Egipte en Ethiopië waarvan die bevolkings groter is as die van Suid-Afrika met hoër ekonomiese groeikoerse al is hul ekonomieë kleiner.
Die Brics-byeenkoms in Augustus was grootliks ʼn diplomatieke oorwinning vir die Chinese leier, Xi Jinping, wat daarin kon slaag om ʼn uitbreiding van die blok se ledetal te verseker.
Daar moet egter nog gesien word of die vyfnasieblok se besluit om Saoedi-Arabië, Iran, Ethiopië, Egipte, Argentinië en die Verenigde Arabiese Emirate vanaf begin 2024 by die groep te verwelkom, enigsins ʼn politieke en ekonomiese krag binne die internasionale bestel sal word.
Met die byvoeging van hierdie ses lande verteenwoordig Brics nou 42% van die wêreld se bevolking en 36% van die globale bruto binnelandse produk (BBP).
China se ambisie om Brics-lidmaatskap uit te brei, sal deur sommige gesien word as ʼn poging om ʼn kontrapunt vir die G7 te vestig.
China het egter iets veel nader aan die G20 geskep – ʼn groot groepering met geen sekretariaat met wetlike gesag oor hul besluite nie en konsensus kan daarom dikwels nie bereik word nie.
Die uitbreiding van Brics kan meer uitdagings as geleenthede vir die stigterslede inhou, veral wanneer dit kom by die skep van alternatiewe instellings tot die huidige wêreldorde.
Daar word baie gewag gemaak van ʼn moontlike gedeelde Brics-geldeenheid, maar dit is te betwyfel of dit aanklank sal vind.
Om mee te begin, impliseer dit dat die Brics-lande groter bedrae van mekaar se geldeenhede sal hou, maar dit is onduidelik of enige lid van die nuwe uitgebreide Brics-lande Russiese roebels sal wil aankoop selfs al kan hulle.
Boonop sukkel die Chinese yuan steeds om sinvol te internasionaliseer vir sy geslote kapitaalmarkte.
Sedert die bekendstelling van die Euro in 2002 het die geldeenheid baie min impak gehad op die oorheersing van die Amerikaanse dollar. Dit lyk dus onwaarskynlik dat ʼn nuwe alternatiewe geldeenheid ʼn verskil daaraan sal maak.
Die insluiting van Iran is ʼn groot kopsorg aangesien dit die groep se anti-Westerse reputasie versterk en hom opsaal met nog ʼn prominente lid wat Amerikaanse sanksies in die gesig staar.
Terwyl Rusland ekonomiese sanksies en internasionale veroordeling vir sy oorlog teen Oekraïne hanteer, het Brics ‘n belangrike forum vir Moskou geword om te demonstreer dat hy nie internasionaal geïsoleer is nie.
Rusland het Brics nodig om uit te brei sodat Moskou sy eie buitelandse beleid kan bevorder.


