fbpx
Vryheidsfront Plus

Minister se optimisme oor munisipaliteite misplaas en dui eerder op ANC-desperaatheid

Thembi Nkadimeng, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), se stellings gister oor onder meer die “merkbare verbetering in die algehele stand van munisipaliteite landswyd” is misplaas en grens aan wensdenkery.

Die feit dat haar eie departement, Cogta, in sy verslag uitwys dat 89% van die land se munisipaliteite steeds as óf disfunksioneel beskou word, óf steeds ʼn risiko inhou om in totale disfunksionaliteit te verval, spreek vanself.

Die Cogta-verslag wys ook uit dat munisipaliteite steeds geen ag slaan op aanbevelings van die ouditeur-generaal (OG), die voorskriftelike blou-en groendruppelverslae of munisipale finansiële en ander wetgewing nie. Die voortgesette verval van dienste en infrastruktuur ten spyte van deurlopende en duur ingrypings deur die departement word ook uitgelig.

Hierdie gebreke word weer, soos tevore, toegeskryf aan onder meer (hoofsaaklik ANC) politieke faksiegevegte, korrupsie, nepotisme, wanadministrasie, onbefondsde begrotings, opgeblase salarisrekeninge en vakatures in sleutelposisies wat vir jare nie gevul word nie (weens onder meer regstellende aksie).

Die verslag bevestig kortom die ANC se onvermoë om op enige vlak te regeer.

Uit die verslag is dit ook duidelik dat die ANC-regering bly fokus op nasionale ingrypings vir plaaslike probleme weens onder meer sy onwilligheid om teen plaaslike ANC-kaders op te tree.

Hierdie “nasionalisering” van plaaslike dienste skep ook ʼn situasie waar Suid-Afrika se inwoners gedwing word om dubbelbelastings te betaal. Dit is asof die ANC-regering aanvaar dat plaaslike regeringsbelastings in ʼn oneindige put van korrupsie en onbevoegdheid verlore raak, en dienslewering waarvoor reeds betaal is, dan met nasionale belastinggeld te finansier.

Nkadimeng se pogings om hierdie ANC-mislukkings met ʼn suikerlagie van “optimisme” te bedek terwyl die feite tot die teendeel spreek is nie net opportunisties nie, maar ANC-desperaatheid in aanloop tot die verkiesing.

Suid-Afrika verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.