fbpx
Vryheidsfront Plus

Kortsigtig om bande met Israel te verbreek

(Parlementsdebat aangevra deur Julius Malema (EFF): Sluiting van Israel-ambassade in Suid-Afrika en opskorting van diplomatieke bande met Israel)

Die EFF se versoek dat Suid-Afrika alle bande met Israel verbreek, plaas die regering in ʼn moeilike situasie wat herinner aan die kwessie van onteiening sonder vergoeding.

Die EFF het daarmee ook die inisiatief geneem en die ANC moes noodwendig volg. Suid-Afrika se parlement moet aanstaande Dinsdag oor voortgesette bande met Israel stem en kan gerus die volgende ter harte neem:

Indien Suid-Afrika alle diplomatieke bande met Israel breek, sal die land nie meer in ʼn posisie wees om enige rol hoegenaamd in die bemiddelingsproses te speel nie.

Dit is tewens interessant om daarop te let dat nie ʼn enkele Arabiese land tot nou toe sy bande met Israel verbreek het nie. Dit sluit in lande soos Egipte, Jordanië, Marokko en die VAE.

Die ANC sê die Palestyne is geregtig op ʼn eie land tuisland en daarmee kan nie verskil word nie. Die waarheid is egter dat ses aanbiedinge om ʼn eie, onafhanklike land sedert 1937 aan die Palestyne gemaak is. Dit is nie aanvaar nie.

Luidens berigte het Algerië op die onlangse Arabies/Islamitiese-beraad voorgestel dat Arabiese bande met Israel verbreek word. Die VAE, Saoedi-Arabië, Jordanië, Egipte, Bahrein, Marokko, Soedan, Mauritanië en Djiboeti was nie ten gunste daarvan nie.

Dit maak dit duidelik dat Suid-Afrika baie versigtig moet wees om nie oorhaastig op te tree rakende Israel nie aangesien so ʼn stap verreikende gevolge vir die land sal inhou.

Al ses diplomate van Suid-Afrika wat geplaas is en werk in die Palestynse hoofstad Ramallah, woon in en om Jerusalem met politieke immuniteit en die goeie guns van Israel.

Indien die regering bande met Israel verbreek, sal hierdie diplomate nie langer welkom wees nie. Hulle sal na Ramallah moet verhuis en die Wesbank deur Jordanië moet binnegaan via ʼn grenspos wat Israel beheer. Dit sal nie moontlik wees nie.

Die realiteit is dat Israel nie afhanklik is van sy verhouding met Suid-Afrika nie en dat Suid-Afrika veel meer baat kan vind deur voortgesette verhoudinge tussen die lande.

ʼn Illustrasie daarvan is die boikotaksies wat tans wyd teen Israelse produkte bepleit word met lyste van maatskappye en produkte wat geboikot moet word.

Die VF Plus het nog nie ʼn lys gesien van Palestynse produkte of maatskappye wat die plek daarvan moet neem nie.

Dit is opportunisties van die EFF om aan te dring op die verbreking van bande met Israel en dit sal kortsigtig van die ANC-regering wees om dit te doen.

Die regte besluit sal wees om alle kanale vir dialoog oop te hou om in belang van al die betrokke partye oplossings te probeer vind.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.