(Parlementsdebat: Broodnodige verligtingstappe insluitend ʼn nul BTW-kosmandjie om die negatiewe impak van verhoogde lewenskoste te versag)
Die ANC is besig om uit verskillende monde te praat oor die uitbreiding van ʼn kosmandjie wat van BTW uitgesluit is en gee duidelik nie om oor die swaarkry van die land se mense nie.
Vandag het adjunkminister David Masondo hom teen die voorstel uitgespreek terwyl die ANC gisteraand nog ʼn verslag in die parlement aanvaar het wat dit aanbeveel.
Die adjunkminister sê dat Suid-Afrikaners sekere “uitdagings” ervaar. Dit is ʼn uiters eufemistiese siening van die realiteit. Dit sou veel nader aan die waarheid wees om dit ʼn krisis te noem.
Suid-Afrikaners kry baie swaar. Die armes word armer en die uitgebreide werkloosheidskoers is meer as 40%. Bykans die helfte van Suid-Afrikaners is werkloos.
Na raming sal 50% van Suid-Afrikaners teen 2025 – oor minder as twee jaar – nie weet waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie.
Vir die huidige krisis is onmiddellike korttermyn-oplossings nodig om behoeftiges te help en om terselfdertyd ekonomiese groei te stimuleer.
Die adjunkminister se argument dat middel- en hoër-inkomstegroepe die meeste bevoordeel sal word deur BTW-toegewings op basiese kosprodukte, is onnadenkend.
Dit sou juis as deel van die totale waardeketting besteding en ekonomiese groei aanwakker wat vir almal voordelig sal wees.
Dit is ook verkeerd om te sê dat BTW-toegewings met ʼn laer BTW-inkomste projekte vir die armes sal benadeel.
Onder die ANC-regering word belastinginkomste in elk geval grootliks wanaangewend. Die regering gee nie werklik om vir die behoeftiges nie.
Die arm massas trek geen voordeel uit swart ekonomiese bemagtiging nie. Die teendeel is eerder waar.
Suid-Afrika het ʼn regering nodig wat waarlik vir sy mense omgee, ryk en arm. ʼn Regering met beleid wat die ekonomie volhoubaar tot almal se voordeel kan laat groei.
Dit beteken daar moet in 2024 van die ANC by die stembus ontslae geraak word om ʼn beter lewe vir alle inwoners van die land te skep.