Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Holistiese kyk na strafregstelsel is nodig om misdaad doeltreffend te bestry

(Parlementsdebat: Versterking van die vermoëns van wetstoepassingsagentskappe in die stryd teen geweldsmisdaad en om onwettige ekonomiese aktiwiteite soos onwettige mynbou, afpersing en ekonomiese sabotasie te takel)

Daar moet holisties na die totale strafregstelsel gekyk word in ʼn poging om misdaad, en veral georganiseerde misdaad, doeltreffend te bestry.

In hierdie stadium laat die strafregstelsel, bestaande uit die polisiediens, korrektiewe dienste en die departement van justisie, die mense van Suid-Afrika in die steek.

Korrupsie het hierdie liggame reeds tot so ʼn mate binnegedring dat misdaad nie meer doeltreffend bestry kan word nie.

Dit is bekend dat misdaadbase hul bedrywighede vanuit hul tronkselle voortsit, veral wat georganiseerde misdaad aanbetref. Wat die howe aanbetref, is dit nie vreemd om te hoor hoe dossiere verdwyn nie.

Ons weet dat korrupsie hoogty vier in die polisie. Dit is maklik om ʼn ondersoek só te verongeluk dat daar geen moontlikheid van suksesvolle vervolging kan wees nie.

Dit beteken dat die misdaad by name korrupsie eers binne die stelsel uitgeroei moet word voordat daar sukses behaal kan word met misdaad buite die stelsel.

Om sake te vererger, is daar ʼn groot verlies aan kundigheid wat personeel aanbetref. In KwaZulu-Natal het 70% van die provinsie se taakmaglede in ʼn kort tydperk die polisiediens verlaat.

Van die redes wat aangevoer word, is swak salarisse, swak werksomstandighede en ʼn swak bevorderingsbeleid. Sommige lede wag tot 20 jaar met dieselfde rang op bevordering terwyl hulle daarvoor kwalifiseer.

Wat die zama-zamas aanbetref, is dit ook niks anders as georganiseerde misdaad nie. President Cyril Ramaphosa het die weermag ontplooi in hierdie stryd, maar dit is ʼn futiele poging.

Dit sou selfmoord vir lede van die polisie of die weermag wees om onder die grond na zama-zamas te soek en dit sou nie die kern van die probleem uitwis nie.

Daar moet gefokus word op die sindikate wat die gemynde stowwe koop.

Ondeurdagte optrede en woorde alleen gaan nie Suid-Afrika se misdaadprobleem oplos nie. Daar moet na die groter prentjie gekyk word en daadwerklik opgetree word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.