fbpx
Vryheidsfront Plus

Verband tussen deurlopend stygende misdaad en swakker polisiediens wys al hoe duideliker

Die polisie se kwartaallikse misdaadstatistiek wys oor die laaste jare ʼn deurlopende styging in misdaad wat buiten ander faktore direk verband hou met die agteruitgang van die polisiediens.

Die syfers wat vandag bekend gemaak is, toon teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar wel ’n geringe afname in moord (0,8%) en seksuele oortredings (1,5%), maar al die ander kategorieë geweldsmisdaad het toegeneem.

Daar was ook ’n skerp styging van 18,6% in die voorvalle van poging tot moord op vroue terwyl ernstige aanranding op vroue met 5,1% toegeneem het. Ernstige aanranding op kinders het met 22,8% toegeneem.

Een van die gevreesde trio-misdade, rooftogte by woonhuise, het toegeneem met 3,8%. Motorkaping toon ’n afname van 2,3%.

Dit is ook duidelik dat die tipiese feestydmisdaad soos winkeldiefstal (5,5%) en diefstal uit voertuie (0,3%) reeds besig is om toe te neem en die publiek moet daarop bedag wees.

’n Welkome stukkie statistiek is ’n afname van 31,3% wat bestuur onder die invloed van alkohol aanbetref. Die VF Plus hoop dit sal voortduur deur die feesseisoen.

Die parlementsdebat gister oor hoe om die stygende ernstige- en geweldsmisdaad te bestry, dui op die erns van die land se misdaadprobleem.

Navorsing van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) wat hierdie week uitgereik is, wys dat moord sedert 2012 met 53% toegeneem het.

’n Situasie in KwaZulu-Natal waar 70% van die provinsie se taakmaglede in ʼn kort tydperk die polisiediens verlaat het, bied ’n goeie idee oor die stand van die polisie.

Van die redes wat aangevoer is vir die bedankings, is swak salarisse, swak werksomstandighede en ʼn swak bevorderingsbeleid wat direk verband hou met regstellende aksie (RA).

Dit is redes wat regdeur die polisie geld. By alle spesialiseenhede tot op stasievlak. Kundige en bekwame lede wat die ruggraat van die polisie vorm, verlaat die diens terwyl korrupsie en ’n verslegtende moraal toeneem.

Daar is besnoeiings aan die polisie se begroting terwyl die aantal polisielede vir elke lid van die bevolking afneem. Hierdie verhouding staan reeds op een polisielid vir meer as 420 lede van die publiek.

Die regering het wel verlede jaar ’n misdaadplan bekend gestel, die Geweld- en Misdaadvoorkomingstrategie, maar soos die meeste ANC-planne word dit nie in die praktyk uitgevoer nie.

Eindelik sal geen plan aan die een kant sukses behaal terwyl die regering dit aan die ander kan met skadelike beleid ondermyn nie.

Totdat ’n bevoegde regering aan bewind kom wat omgee vir sy mense en erns maak met die stryd teen misdaad, sal landsburgers toenemend eienaarskap vir hul eie veiligheid en besittings moet neem.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.