Die meerderheid raadslede in die Bojanala-distriksmunisipaliteit (Rustenburg, Madibeng en Kgetlengrivier) het Woensdag tydens ʼn raadsvergadering die VF Plus se mosie gesteun dat klagte by die polisie ingedien moet word teen die munisipale bestuurder, Lucky Fourie, en ander hooggeplaastes in die munisipaliteit weens tenderkorrupsie.
Die beweerde ongerymdhede het aan die lig gekom nadat ʼn forensiese ondersoek deur ʼn regsfirma in die munisipaliteit gedoen is.
Uit die verslag wat in die raad ter tafel gelê is, blyk dit onder meer dat ten minste R17 miljoen rand onreëlmatig aan verskillende tenderpreneurs uitbetaal is.
Die DA het laat noteer dat hulle nie met die verslag se bevindings of aanbevelings saamstem nie.
Groot uitbetalings is na bewering onder meer gedoen vir die hou van werksessies by konferensiegeriewe wat nooit plaasgevind het nie.
Só is R700 000 uitbetaal vir honderde pare skoene en sanitêre doekies wat by skole in die Bojanala-distrik uitgedeel sou word. Die skoolhoof van die Kgetlengrivier Primary School het bevestig dat dit nie gedoen is nie.
Die ander skool wat na bewering sou baat vind by die projek, die Moretele Primary School, is boonop geleë in Mamelodi in Pretoria.
Hierdie is slegs ʼn paar voorbeelde van die beweerde ongerymdhede wat in die verslag ontbloot is.
Hierdie aangeleentheid moet behoorlik deur die polisie ondersoek word. Indien persone oortree het, moet hulle vervolg en gestraf word.
Die verslag en sy bevindings belig weer die omvang van die korrupsiekultuur wat deel van die ANC geword het. Die VF Plus sal toesien dat dit nie intern hanteer en mettertyd onder die mat ingevee word nie.
Die enigste manier om Suid-Afrika te red is deur te registreer en te stem om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Saam kan ons Suid-Afrika herstel en bou.