(Debat in parlement: Evaluering van die rol wat hoofstuk nege-instellings speel in die bevordering van grondwetlike demokrasie in post-apartheid Suid-Afrika)
Die rol wat hoofstuk 9-instelling speel in die bevordering van grondwetlike demokrasie is baie belangrik en tandelose instellings is daarom nutteloos.
Hierdie instellings moet bekwaam wees met behoorlike hulpbronne en befondsing, vaardige en kundige personeel en ondersteuning waar nodig.
‘n Voorbeeld is die menseregtekommissie (MRK) wat moet toesien dat basiese menseregte nie geskend word nie. Waar dit wel gebeur, moet die vergrype ondersoek word en gepaste remediërende stappe voorgeskryf word.
Die oorvloed van menseregtevergrype in die land, veral deur die regering self, maak die MRK se werklas byna onmoontlik. So waarborg artikel 24 van die Grondwet elkeen se reg om in ʼn omgewing te leef en werk wat nie skadelik is vir sy of haar gesondheid en welstand nie.
Tog moet Suid-Afrikaners daagliks hul drinkwater, waar dit wel beskikbaar is, onttrek uit bronne wat met riool besoedel is. Die VF Plus het al talle sake hieroor by die MRK aangemeld, maar met weinig sukses.
Die openbare beskermer (OB) is ʼn goeie voorbeeld van hoe verkeerde mense op die regte plekke onmeetbare skade aan ʼn artikel nege-instelling kan aanrig.
Sewe jaar gelede het die parlement ʼn OB aangestel wat eindelik verwyder moes word weens onbevoegdheid.
Die kommissie vir die bevordering en beskerming van kulturele, godsdienstige en linguistiese gemeenskappe moet in staat gestel word om meer as navorsing en papierwerk te doen.
Onlangse regshervormings wat die ouditeur-generaal (OG) in staat stel om self regstappe in te stel is ’n stap in die regte rigting, maar dan moet dit uitgevoer word.
Suid-Afrika het een van die mees gevorderde grondwette ter wêreld wat voorsiening maak vir die uitvoering, bevordering en beskerming van burgers se basiese menseregte.
Onder die ANC-regering word dié regte vertrap wat hoofstuk nege-instellings net mooi op papier laat lyk.
Hierdie instellings sal net hul mandate suksesvol kan uitvoer wanneer die ANC vervang word met ʼn bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel sal wees.