Dit is ironies dat die landbousektor een van die blink sterre is in die effense verbetering in Suid-Afrika se arbeidsmark nieteenstaande ’n regering wat hom toenemend soos ʼn swart skaap behandel.
Die sektor se jaar-op-jaar-bydrae vir die derde kwartaal was meer as 60 000 nuwe werksgeleenthede. Die vraag kan gevra word hoeveel beter hy nie kan vaar sonder striemende wetgewing, regulasies en inmenging van die regering nie.
Die sektor moet toegelaat word om homself te reguleer deur landbou-organisasies en landbouers wat die nodige kundigheid het.
Al het 362 000 meer mense in Suid-Afrika in die derde kwartaal van vanjaar werk gehad as in die ooreenstemmende tyd in 2020, is die persentasie werkloosheid met bykans 2% op.
Dit is ’n ontstellende aanduiding van die vinnige tempo waarteen Suid-Afrika se bevolking toeneem en moet verreken word met ander faktore wat meewerk tot uiters swak ekonomiese groei onder ’n onbevoegde ANC-regering.
In 2020 het 16 383 000 mense werk gehad met ’n werkloosheidsyfer van 30,1% teen verlede kwartaal se 16 745 000 en ’n werkloosheidsyfer van 31,9%.
Die positiewe nuus is nogtans dat werkloosheid en uitgebreide werkloosheid vir die tweede agtereenvolgende kwartaal gedaal het en tans staan op 31,9% en 41,2%.
Indiensneming van jaar-tot-jaar het met 979 000 poste of 6,2% gestyg.
Alhoewel die werkloosheidskoers steeds van die hoogste in die wêreld is, moet die daling verwelkom word. Dit blyk dat die geweldige impak van Covid-19 bykans omgedraai is.
Die VF Plus sal die beterskap nogtans versigtig optimisties benader aangesien dit moeilik is om in te sien hoe groei werklik kan plaasvind midde-in in die verlammende effek van beurtkrag, swak dienslewering en afbrekende ANC-beleid.