Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Massa-bedanking van polisie se elite-eenheid-lede laat rooi ligte flikker

Luidens mediaberigte vandag het meer as 70% van die polisie se spesiale taakmaglede in KwaZulu-Natal die diens binne ʼn kort tydperk verlaat en net 15 van die eenheid se 53 lede is nog oor.

Dit laat ernstige vrae ontstaan oor die bestuur van die polisiediens wat die rooi ligte laat flikker. Geen polisiediens kan behoorlik sonder spesialiseenhede opereer nie.

Die taakmag is ʼn spesialiseenheid wat spesiale opleiding verg en baie belastinggeld word aan die lede bestee wat hulle baie gesog vir die private sektor maak.

Sulke ervare en hoogs opgeleide lede verlaat nou die polisiediens wat reeds in ʼn krisis is weens ʼn tekort aan kundigheid.

Die polisievakbond Sapu sê luidens die berigte die rede vir die lede se diensverlating is swak betaling, ʼn onbillike bevorderingsbeleid, wanbestuur en die verwaarlosing van die eenheid.

Dit is sake wat ek al herhaaldelik in die parlement se portefeuljekomitee vir polisie geopper het sonder dat dit daadwerklik aangespreek is.

Hierdie redes is baie belangrik en maak dit duidelik dat die polisie nie meer ʼn aantreklike beroep is nie.

Bevordering word hoofsaaklik oorweeg op grond van regstellende aksie (RA) en werksdruk word groter soos wat ernstige misdaad soos transitorooftogte toeneem.

Dit is duidelik dat lede van hierdie eenheid se salarisse en toelaes nie in lyn is met hul gevaarlike en moeilike werksomstandighede nie. Dieselfde geld ander spesialiseenhede met ervaring wat toenemend verlore gaan.

Dit beteken ook dat ʼn groot leemte ontstaan wat mentorskap van jong en onervare lede aanbetref.

Uit ʼn onlangse vraag wat ek gevra het oor die situasie by die polisie se veediefstaleenhede, blyk dit dat dieselfde probleem daar geld.

Ervare en kundige lede verlaat die diens en hul kennis gaan verlore. Ervaring kan nie deur ʼn kursus of ander akademiese kwalifikasie verkry word nie. Dit is iets wat in die praktyk oorgedra moet word.

Die polisiebestuur moet onmiddellik optree met ʼn duidelike plan om hierdie spesialis-lede vir die diens te behou om hul kundigheid en ervaring nie verlore te laat gaan in die stryd teen misdaad nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.