Die VF Plus as deel van die Tshwane-metroraad se koalisieregering, het voorstelle ingedien by die metro se portefeuljekomitee vir menslike nedersettings om die behuisingsnood en -agterstand uit te wis.
Een van die groot probleme wat die proses kniehalter, is die feit dat die metro nie ʼn goedgekeurde paneel van kontrakteurs het nie.
Tans maak die metro gebruik van ʼn openbare verkrygingsproses wat daartoe lei dat kontrakteurs wat swak presteer aangestel word en behuisingsprojekte vertraag.
Dit gebeur dat kontrakteurs toelae ontvang en nie oordeelkundig met die geld te werk gaan nie wat daartoe lei dat hulle die projek half voltooi agterlaat.
Die VF Plus het voorgestel dat daar weggedoen word met die openbare verkrygingsproses en dat dit vervang word met ʼn goedgekeurde paneel kontrakteurs wat op meriete aangewys word vir behuisingsprojekte.
Dit sal die onderbesteding van die departement van menslike nedersettings uit die weg ruim en sal die metro in staat stel om vinniger sy daklose inwoners van behuising te voorsien.