fbpx
Vryheidsfront Plus

Minister moet verduidelik oor bande met Hamas en Iran

(Debat in parlement: Israel-Palestynse konflik)

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, moet verduidelik oor haar bande met Hamas en Iran.

Die minister se onlangse oproep aan Ismael Hanijeh, senior leier van Hamas, wys hoe nou haar bande is met ʼn organisasie wat terreur gebruik om sy doelwitte te bereik.

Iran het reeds openlik sy tevredenheid met Hamas se aanval op uitgespreek waarin 1 400 Israelse burgers dood is. Die grusaamhede hiervan is goed gedokumenteer.

Die Suid-Afrikaanse regering het onmiddellik gewys waar hy staan deurdat die totale uitvoerende gesag Palestynse serpe gedra het om sy solidariteit met die Palestyne te toom.

Nie ’n enkele woord van veroordeling oor die terreuraanval is gerep totdat die Palestynse president Mahmoed Abbas Hamas se optrede veroordeel het nie.

Suid-Afrika se onttrekking van sy diplomate aan Israel vir “konsultasie” en sy dreigement om Israel se ambassadeur in Suid-Afrika uit te skop, wys onteenseglik waar sy sentimente lê.

Die VF Plus is ook bewus daarvan dat die konflik summier beëindig kan word indien Hamas bereid sou wees om aan drie voorwaardes te voldoen.

Die eerste is die onvoorwaardelike vrylating van alle gyselaars wat ’n maand gelede uit Israel ontvoer is. Ten tweede die onmiddellike beëindiging van vuurpyl-aanvalle op Israel en derdens die onderneming om op te tree teen alle persone wat vir die aanval op 7 Oktober verantwoordelik was.

Hamas is bewus daarvan dat dit wel in sy hande is om die konflik en die lyding van alle Palestyne in die gebied tot ’n einde te bring, maar verkies self om dit uit te rek.

Die ANC plaas homself aan die verkeerde kant van die geskiedenis en is toenemend besig om Suid-Afrika te vervreem van lande van wie hy vir sy oorlewing afhanklik is.

Die skeidslyn tussen anti-Westerse ANC-retoriek en optrede op die internasionale verhoog is besig om vinnig te vervaag.

Die wêreld neem kennis daarvan dat die ANC-regering hom toenemend tuis voel tussen die beskimmeldes van die wêreld wat menseregte openlik vertrap.

Gewone Suid-Afrikaners gaan die prys hiervoor betaal.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.