Die VF Plus in Limpopo is teleurgesteld met die aanstelling van me. Dorcas Mboyi as nuwe burgemeester van die Makhado-plaaslike munisipaliteit (Louis Trichardt) weens haar swak diensrekord.
Die nasionale kantoor van die ANC het verlede Vrydag (3 November) ‘n finale besluit geneem oor watter van sy burgemeesters vervang gaan word aangesien die ANC sedert die plaaslike verkiesing in 2021 nie ’n konsensus oor aanstellings kon bereik nie.
Met die ANC se rekord van onderprestering en kaderontplooiing twyfel die VF Plus sterk oor dienslewering onder hierdie nuwe aanstelling vir Makhado.
Mboyi was sedert 2012 portefeuljehoof van tegniese dienste in die Vhembe-distriksmunisipaliteit en kon nie daarin slaag om die ernstige diensleweringsprobleme rondom die voortslepende waterkrisis in dorpe soos Louis Trichardt, Musina en omliggende gebiede te verbeter nie.
Die Vhembe-distriksmunisipaliteit is verantwoordelik vir die verskaffing van water aan inwoners van Louis Trichardt (Makhado) en Musina wat al vir etlike jare gereeld gebuk gaan onder ernstige watertekorte.
Die VF Plus sal aanhou druk toepas om te sorg dat die distriksmunisipaliteit sy wetlike verpligting om drinkbare water aan die inwoners van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, te verskaf.
Inwoners van Louis Trichardt en Musina verdien beter as die ANC.