Die VF Plus ondersteun die plan om vooruitgang in die Tshwane-metro teweeg te bring en het Maandag, 6 November, sakelui en belanghebbendes daaroor toegespreek.
Die party het ʼn voorlegging aan verskeie rolspelers soos veiligheidsmaatskappye, eiendomsontwikkelaars en ander sakelui gedoen rakende die stigting van stadsverbeteringsdistrikte (SVD’s).
Die uitgangspunt is dat verskillende SVD’s geskep moet word om die metro by te staan met die dienslewering in ʼn SVD.
Gemeenskappe kan ʼn positiewe rol speel met die stigting van ʼn SVD.
ʼn SVD kan onder meer help met die veiligheid en sekuriteit van openbare gebiede soos paaie, sypaadjies en parke asook met die onderhoud en skoonmaak daarvan.
Dit kan ook help met die herstel van slaggate, sypaadjies, herwinningsprojekte en die beskerming van plante en bome.
ʼn SVD kan ook data rakende misdaad in die gebied versamel wat ontleed kan word om beveiliging te verbeter.
Een so ‘n suksesvolle SVD is die Hatfield-SVD wat in 2003 gestig is. Sedert die stigting daarvan is die Hatfield-kampusgebied een van die skoonste, veiligste en inklusiefste gebiede in die metro.
Alhoewel die metro grootliks die Hatfield-SVD finansier, kan inwoners ook 25% van hul eiendomsbelasting oorbetaal om SVD’s te finansier.
Die VF Plus sien hierdie as ʼn deurlopende program om die verhouding tussen die metro en die gemeenskappe te versterk en uit te bou.