Die besluit van die Suid-Afrikaanse regering om die land se diplomate uit Israel te onttrek vir “konsultasie” is eintlik net ’n rookskerm van Suid-Afrika om die boodskap aan Israel te stuur dat diplomatieke bande met dié land moontlik verbreek kan word.
So ’n stap sal tot groot nadeel wees van Suid-Afrika. Daar is sterk ekonomiese bande tussen Suid-Afrika en Israel.
Daarbenewens lewer die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika ’n belangrike bydrae tot die land se ekonomie deur die skep van ondernemings wat talle werksgeleenthede vir alle Suid-Afrikaners skep.
Die regering moet versigtig wees oor sy diplomatieke bande met Israel. Die verbreking daarvan kan duisende werksgeleenthede verlore laat gaan.
Die waarheid is dat so ’n stap Israel nie veel sal raak nie terwyl Suid-Afrika ’n duur prys sal betaal. Dit sal nie in belang van Suid-Afrika wees nie.
Dit sal ook die opvatting by Westerse lande versterk dat die ANC-regering hom toenemend skaar by ongure vriende ten koste van die Weste.
Met Rusland se aanval op Oekraïne het die regering gesê hy sal ’n neutrale standpunt inneem in ’n konflik tussen ander lande. Hier word duidelik kant gekies.
Die Weste skuld die ANC niks en hierdie voortdurende afjakke gaan nie ongesiens verby die Westerse sentrums van mag nie. Die regering moet daarvan kennis neem.