Kwaai bye wat munisipale werkers op hol gejaag het, was die oorsaak dat inwoners van die Roodia- en Stefanoparkhoewes in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit etlike dae sonder water was.
Die VF Plus en munisipale werkers het verlede week vyf dae lank na die waterlekkasie gesoek wat die hoewes waterloos gelaat het.
Die waterlekkasie is agter ʼn grensmuur opgespoor, maar die groep munisipale werkers het geweier om die lekkasie te herstel weens ʼn byenes langs die grensmuur.
Die VF Plus moes inderhaas ʼn byeboer skakel om die koninginby te kom verwyder.
Die lekkasie is eindelik vandag herstel nadat die bye ʼn ander heenkome gevind het.
Inwoners van die hoewes moes intussen water by watertrokke gaan haal wat op strategiese plekke geplaas is.
Verskeie inwoners het ook hul boorgate beskikbaar gestel aan ander inwoners.