AAN:
Die uitvoerende burgemeester,
Mogale City-plaaslike munisipaliteit
Gemeenskapsentrum, Krugersdorp
EN
Die agbare LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake,
Gauteng-provinsiale regering
EN
Die agbare minister van water en sanitasie,
Republiek van Suid-Afrika
VAN:
Besorgde inwoners, sake-eienaars, omgewingsorganisasies en grondeienaars van Mogale City en omliggende gebiede
ONDERWERP:
Versoek vir onmiddellike ingryping en rehabilitasie van riviere geraak deur voortdurende rioolstorting deur Mogale City se afvalwaterinfrastruktuur.
1. Agtergrond en aanhoudende probleem
Inwoners en besighede in Mogale City gaan nou al vir ’n geruime tyd gebuk onder voortdurende rioolstortings wat plaaslike riviere en spruite, insluitend maar nie beperk tot die Tweelopiespruit en die Wonderfonteinspruit nie, besoedel. Hierdie stortings word veroorsaak deur vervalle munisipale afvalwaterinfrastruktuur, swak instandhouding en gebrekkige optrede in reaksie op klagtes vanaf die publiek.
2. Impak op die omgewing en gesondheid
Die geraakte riviere toon sigbare tekens van besoedeling en ekosisteemverval en het ’n merkbare stank. Waterlewe het aansienlik afgeneem en die omliggende plantegroei is ook reeds gekontamineer. Mens en dier wat afhanklik is van hierdie waterbronne staar wesenlike gesondheidsgevare in die gesig aangesien hulle blootgestel word aan skadelike patogene, wat openbare gesondheidsrisiko’s inhou.
3. Ekonomiese en maatskaplike impak
Besighede naby aan hierdie waterbronne, insluitend toerisme-, gasvryheids- en ontspanningsondernemings, sowel as dié wat afhanklik is van die water, soos boerderybedrywighede, het reeds enorme finansiële verliese gelei. Eienaars van eiendomme in die omgewing het ʼn afname in eiendomswaarde opgemerk wat veroorsaak word deur die besoedeling en verwante risiko’s. Die voortdurende rioolstortings erodeer gemeenskapswelstand en -waardigheid, en skend inwoners se grondwetlike reg op ʼn omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie (artikel 24 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996).
4. Munisipaliteit en betrokke owerhede se regsverpligtinge
Ingevolge die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) moet alle waterbronne volhoubaar beskerm, gebruik, ontwikkel, bewaar, bestuur en beheer word. Die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (Wet 107 van 1998) plaas ‘n verpligting op elke persoon, insluitend staatsorgane, om besoedeling en omgewingsagteruitgang te voorkom. Die Wet op Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000) vereis dat munisipaliteite volhoubare dienslewering moet verseker en noodsaaklike infrastruktuur in stand moet hou. Die voortdurende rioolstortings is ‘n duidelike oortreding van hierdie statutêre en grondwetlike verpligtinge.
DAAROM EIS ONS:
– Die onmiddellike indamming en staking van alle rioolstortings binne Mogale City se jurisdiksie.
– ‘n Onafhanklike omgewingsevaluering om die volle omvang van die skade aan geraakte riviere en ekosisteme te bepaal.
– ‘n Omvattende rehabilitasieplan wat deur die munisipaliteit in samewerking met die departement van water en sanitasie befonds en geïmplementeer word.
– Deursigtige verslagdoening en openbare konsultasie oor tydlyne, stappe wat geneem is en vordering.
– Verantwoordingsmaatreëls, insluitend ‘n ondersoek na munisipale bestuursfoute wat tot die stortings gelei het.
– Die implementering van meganismes om ekonomiese en sosiale verligting te bied aan geraakte inwoners en besighede, insluitend vergoeding of belastingverligting waar van toepassing.
TEN SLOTTE:
Ons, die ondergetekendes, doen ‘n beroep op die bogenoemde owerhede om dringend en doelgerig op te tree om die geraakte rivierstelsels te herstel en openbare gesondheid sowel as grondwetlike en omgewingsregte te beskerm.
Petition for rehabilitation of rivers affected by continuous sewer spillage by Mogale City Local Municipality
"*" indicates required fields


