Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Wit inwoners van ou Kroningspark-nedersetting word verneder

Die eerste somerreënbuie wat die naweek in Gauteng geval het, het dit duidelik gemaak dat die sub-standaard strukture in Munsieville waarheen voormalige inwoners van die Kroningspark-nedersetting moes skuif, hulle nie voldoende gaan beskerm teen gure weerstoestande nie, sê Amanda de Lange, raadslid van die Vryheidsfront Plus in Mogale City.

Sy sê dit is onverstaanbaar waarom die stadsraad van Mogale City die hervestiging van behoeftige mense so oorhaastig gedoen het as die hofbevel wat teen die inwoners verkry is om te skuif, eers op 16 Desember in werking tree. Die ekstra tyd sou sinvol gebruik kon word om die hervestiging meer ‘menslik’ te laat verloop.

Volgens de Lange bepaal die hofbevel dat die eerste groep inwoners teen 1 November verskuif moet word en die tweede groep, gesinne met skoolkinders, eers teen middel Desember.

De Lange sê sy besoek Munsieville gereeld en probeer vergeefs om met Mogale City se regs- en behuisingsafdeling in gesprek te tree om probleme te bespreek.

“Die terrein waarop die hervestiging plaasvind, was ‘n ou vullishoop wat bloot gelyk geskraap is. Uit die gemors in die grond, wat duidelik nie gekompakteer is nie, blyk dit dat die gebied nie voldoende gerehabiliteer is nie.

“Strukture wat opgerig is, is lamlendig. Huise het min vensters en die dakke en mure het sulke groot gapings dat ‘n mens daardeur kan kruip. Die dakke is boonop met toue vasgebind omdat dit kort na oprigting begin afwaai het. Sinkplate is van so ‘n lae kwaliteit dat dit selfs skeur in die wind.

“Die VF Plus meen dat die stadsraad die mense in groepies kon hervestig om aan hulle ‘n geleentheid te gee om die sinkhuisies eers leefbaar te maak. Tans is dit onhigiënies en gevaarlik en is die gebied nie geskik vir menslike bewoning nie,” sê De Lange.

Sy sê dit is ook nie die eerste keer dat Mogale City mense op dié manier uitlewer en verneder nie. By ‘n vorige geleentheid moes sy in Tarlton ingryp toe ‘n nuwe grondeienaar in Hekpoort met die hulp van die wyksraadslid mense oornag na Tarlton verskuif het en hulle daar ook in haglike omstandighede gelos het.

“Ons beveg nie die hofuitspraak nie, maar wel die bestuur van Mogale City vir die onmenslike wyse waarop hulle die armste van die armstes behandel,” sê De Lange.

  

Amanda de Lange

Kontaknommer: 071 604 9498

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.